Ek wil ‘n wildspark
maak in die middestad.
Plant weer gras en woeste savanna
‘n paar bome en los hier
en daar ‘n skaai skryper
vir die arende om in nes te maak
en die dassies om te bak
omskep die M2 in ‘n scenic route
en maak afdraai uitkykpunte
oor die veld.
Soms, as jy gelukkig is,
sien jy dalk olifante paar
op ‘n mynhoop
tussen Goldreef- en Sandton city:
eilande moeras in die see van gras.
Skrap die jungle
vir ‘n wildernis
maak ‘n tuin
van net duskant Soweto
tot by die jelliemouldument.
Met korridors vir mense
en leeus en luiperds om
die lummels uit te hou
onteien my huis eerste
vir die nuwe wildernis
gee my net genoeg
om ‘n rots of twee
naby Paternoster aan te skaf
en ‘n life-long timeshare week
in die kugel national park.