Boemel is ‘n fyn kuns in es aa
kompleet met advertensie lyne
en gepaste gesigsuitdrukkings
‘n volslae roadshow
wat mens toeslaan op jou voorskerm
weg agter check-me-back brille
elke nou en dan
raak ‘n kleintjie se snotneusie
aan ‘n snaar
en dan krap ek vervaard rond
tussen die kredietkaartstrokies
vir ‘n aalmoes
of twee rand
verpand
my gewete
maklik.
Die ou wat elke Sondagoggend
vir geld of kos kom vra
nog steeds oppad na Germiston toe
- wonder wat het hy daar verloor.
Die bedelaar by die muur
laat my emosionele gal braak.
Vrees en afsku vermeng
om daardie twee rand vyftig
soos Bloubaard se ongehoorsame vrou
vir ewig van my te wil afwas.