Die woorde woel in my vanaand.
iewers tussen middernag en
kwart voor laat
skrik my wete wakker
tot die lyf,
en onthou
ons honger oë
en die skugter stryk
van lippe:
hunker-huiwerend, versigtig.
‘n Platoniese groet
op die rand van ‘n vulkaan.
En ek dag
so ewe dat ek lankal reeds
verlos was van die drang
wat ander
tot sulke sotheid dryf.
En skielik, hier, tussen vier en vyf,
staan ek wakker en ek weet
dat ek én die naam wat hom op my lippe bevind
is aan ander gebind.