Jy gee my in my droom ‘n flits -
en ons kajak om die kaap van storms.
‘Jy sal dit maak, ek wag vir jou,’
fluister jou gestalte.
Die suidelike hawe kom so gou,
dis maklik,
selfs al is dit nag,
die water woes, maar nie te koud
eintlik voel ek baie goed.
Ek glip deur poorte soos ‘n kind,
verloor alles in die nat:
my skede, en my spaan, my skoene en,
my vriend, jou flits.
Die pad wat jy my aangesê het,
voer my mee,
en weldra staan ek op die rand,
nakend, skoon,
en verwag jou tussen al die ander.