Dis dood
bang hierbinne
vir nóg voel.
Ek sien ewe veel op
teen my eie nyd
as op die tranerigheid
wat soms teen my ooglede skop.
Vanaand se ete by vriende
lyk soos ‘n berg
wat net ek kan sien.
Die spasma wat gewoonlik
begin by my spraak-oksel
is al heel ver gevorderd teen
middag, en my ore slaan toe.
Ek dink myself reg
in ‘n skeelhoofpyn in,
drink ‘n paar disprins,
en hoop hulle werk nie.
Prys die Here,
daar kramp my nek!